O.S.H. Reinecke Leierskaptoekenning 2017: Prof Leopoldt van Huyssteen

 In News Room Industry News, Uncategorized

Met albei bene (en hart) op die grond

Woorde deur Elise-Marie Steenkamp

Prof. Leopoldt van Huyssteen, Uitvoerende Bedryfshoof van die Universiteit Stellenbosch, is vanjaar die Sagtevrugtebedryf se wenner van die O.S.H. Reinecke Leierskapstoekenning. Die toekenning gaan jaarliks aan iemand wat uitnemende leierskap getoon het. Van Huyssteen se meer as veertig jaar diens aan die landbou, maak van hom ‘n waardige wenner. Lees meer oor hierdie nederige man wat op ’n vrugteplaas gebore is.

Hy is in 1951 in die Langkloof op ’n vrugteplaas gebore. Agtien kilometer duskant Joubertina. Die oudste van ses kinders. Pa was boer maar ook die plaasskooltjie se laerskoolonderwyser en skoolhoof – hy is jonk dood. As oudste seun in die gesin het hy die verantwoordelikhede van ’n familie-sonder-pa oorgeneem. Sy ma kon byvoorbeeld nie motor bestuur nie. Sy het hom nodig gehad. Sy jongste broertjie was twaalf jaar jonger as hy. Hy moes versorg, plaaswerk doen en studeer. Toe verloor die gesin ook hul moeder op ’n jong ouderdom, terwyl die drie jongste kinders nog in die huis was.

Sy sin vir harde werk, om alles self te doen en verantwoordelikheid te neem, is in sy vormingsjare in hom ingebeitel. Hieroor sê hy ook: “Mens kan sosiale vaardighede aanleer, maar waardes is anders. Dit is iets wat jonk reeds by jou ingeprent word en wat jou lewenskompas word in veral moeilike tye. Waardes kry mens nie sommer uit ’n boek nie.”

En die Langkloof se aardse mense het baie te doen gehad met hierdie waardes. Soos om beginselvas en nugter oor die lewe te wees. Lewenslesse, staaltjies en gesegdes vol wyse waarhede het hy dikwels by die landbouwerkers geleer. Een waarvoor hy vandag nog besonder lief is, is: “Wat baat dit die hond om vir die maan te huil, want die maan hou net aan skyn.”

Grond

Op dertien moes die jonge Leopoldt vir hoërskool koshuis toe. By die Hoërskool McLachlan het hy die eerste keer met die wetenskaplike aard van die grond waarmee hy elke dag gewerk het, te doene gekry. “Ek het ook hier vir die eerste keer besef hoe uniek die Langkloof se geologie en ekologie is.”

En toe gebarste oordromme hom uit die weermag hou, het hy sy diensplig in die destydse kommandostelsel voltooi, en is hy Stellenbosch toe om landbouwetenskappe met grondkunde en chemie as hoofvakke te studeer. Chemie het hom proseswerking en dissipline geleer, maar grondkunde was sy passie. En oor grond kan hy, wat eintlik ’n introvert is, baie praat.

Hoewel hy nou reeds lank nie aktief in sy vakgebied werk nie, bly dit vir hom ’n fassinerende studieveld. “Grond is soveel meer as dit wat mens sien. En word verkeerdelik sommer net as vanselfsprekend aanvaar. Dit is die begin en einde van goeie landboupraktyke. Grond is lewendig, ryk aan organismes, dit het verskillende lae. Dis ’n stelsel. En stelsels moet jy respekteer, jy moenie daarmee mors nie.”

Hy vertel ook wat grondkunde hom oor mense en verhoudinge geleer het. “Mens kan grond net aan die oppervlak bestuur of jy kan die grond in diepte ontleed en dienooreenkomstig bestuur. Boere, veral, weet dit goed. Met mense is dit dieselfde. Mens moet uitvind wat dieper in mense aangaan – wat hulle motiveer, wie hulle is – om hulle effektief te bestuur, en dikwels is die oppervlak bedrieglik.

“Daarby is grond ’n sisteem. Mens kan dit uitput, mishandel – veral as jy dit nie reg bestuur nie. En om dit dan weer te rehabiliteer is baie moeilik. Daar is ’n grond-water-plant-atmosfeer-kontinuum wat in balans moet bly. Plante staan met hul wortels in die grond en met hul koppe in die atmosfeer, plante is uitstekende integreerders. En dit wat jy in die grond doen het uiteindelik ’n uitwerking op wat in die atmosfeer gebeur. Dieselfde met mense, behalwe dat mense net op een plek op ’n slag is, of bo die grond of onder die grond.”

 

Vooruitdenker

Hierdie kennis en insigte van die natuurwetenskappe, glo hy, het hom ook veral gebaat die afgelope amper twintig jaar wat hy in bestuursposisies by die universiteit is. Toe hy in 1999 as dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe aangestel is, het hy ook ’n anderse benadering in sy bestuurstyl gevolg.

Soos sy kollegas sê, “hy was nog altyd ’n vooruitdenker, soms uit pas met sy tyd en omgewing”. “Ek het destyds al voorgestel dat die universiteit studente soos kliënte moet hanteer. En dat die universiteit ’n besigheidsplan moet hê.”  Destyds was dit akademiese kettery. Vandag die universiteit se strategie.

Tog was dit hy na wie die universiteit gekyk het vir leierskap toe die US se rektor prof. Russel Botman skielik oorlede is. Dit was vir hom wat die uitvoerende bedryfshoof pos geskep is. ’n Samevoeging van drie ander bestuursposisies. En toe hy laasjaar wou aftree, is hy gevra om nog ’n jaar aan te bly en die universiteit deur een van sy grootste krisisse tot op hede, te help lei. Niks kon die universiteit vir die woede en ontwrigting van die Fees Must Fall-veldtog voorberei nie. Maar soos hulle in die vermaakwêreld sê: The show must go on – dieselfde was waar vir die akademiese aktiwiteite. Hierdie ervarings wil hy dan ook opskryf in ’n boek oor veranderingsbestuur in die hoëronderwys.

Tyd

In die landbou en aan die universiteit het hy ’n vol, produktiewe loopbaan gehad, maar hy is nou reg vir aftree. Vir verveeldheid is hy nie bang nie, en daar is reeds ’n paar geleenthede wat wink. Hy is per slot van sake ’n doen-dit-self-man en sê onomwonde dat hy die beste motorwerktuigkundige is wat hy ken. Net laasweek het hy self hulle huis se gryswatersisteem geïnstalleer. Dit nadat hy, natuurlik, alles oor hierdie stelsels bestudeer het.

Vir hom is tyd die kosbaarste kommoditeit. “Daar is net eenvoudig soveel ure in ’n dag. Mens kan dit nie meer maak nie.”

En hoewel hy ’n selferkende werkesel is, wat met ’n paar ure se slaap oor die weg kan kom, bly tyd hom ontwyk. Maar hy hoop dat hy met aftrede weer tyd gaan hê vir tuine uitlê, vir van sy vriende, veral in die landbou, en vir 4×4-ry. Nie om ’n kar stukkend te ry nie, “dit doen ’n armmanseun nie”, maar om op afgeleë, ongeskonde plekke te kom en die natuur in al sy glorie te ervaar. “Mens hoef net ’n paar dae in die natuur deur te bring, dan is jy weer ’n ander mens. Jy dink anders, ervaar dinge anders.”

Vir hom het hierdie kosbare tyd nou aangebreek. Sy verantwoordelikhede en werk by die universiteit is volbring.

 

Fast Facts about Prof Leopoldt:

  • Prof van Huyssteen received all his qualifications from Stellenbosch University, including a PhD in Soil Science. He has been a member of staff since January 1999, when he was appointed as chair of the SU Department of Soil and Agricultural Water Science. He served as dean from October 1999.
  • He became the director of the ARC Nietvoorbij Institute for Viticulture and Oenology in 1993 and played a crucial role in commercialising its research work once this entity moved beyond the civil service. Later he also served as director of the newly formed ARC-Institute for Fruit, Vine and Wine, after two ARC institutes, Infruitec and Nietvoorbij, amalgamated under his leadership.
  • During his career of more than 40 years, Prof van Huyssteen has served in many professional societies, committees and councils. He was among others a council member and president of the Soil Science Society of South Africa, a council member of the ARC, and a member of the Elsenburg Agricultural College council.  He was also a council member and vice-chair of Winetech’s council. Prof van Huyssteen still chairs the Agribusiness in Sustainable Natural African Plant Products initiative (ASNAPP South Africa). This endeavour focusses on the production of natural plant products for niche markets by resource-poor communities in Africa.
  • Over the years, his work has been commended by the South African Society for Oenology and Viticulture, the Soil Science Society of South Africa and Agricultural Writers Western Cape. Two videos based mainly on his research over many years about soil preparation and tillage were awarded the international OIV Prize (Office Internationale de la Vigne et du Vin) in France in 1992 as the best example of the transfer of technology through audio-visual means. He is also an honorary member of the South African Society for Oenology and Viticulture, and the Fertilizer Society of South Africa.
  • He was recently appointed as the academic head of the Academy for Environmental Leadership near Upington.
  • He is married to Sustiana and they have two children. Karina Berner (33) and Hendrik van Huyssteen (30).
Recent Posts

Leave a Comment

Contact Us

Get in touch!

Not readable? Change text. captcha txt